Wat glo ons?
As ’n gemeente van die groter Volle Evangelie Kerk van God in Suider-Afrika glo ons in dieselfde hoofpunte. Vir ons as gemeente is daar ’n paar dinge wat van kardinale belang is vir elke gelowige:
- Aanvaar en erken dat Jesus Christus jou persoonlike Saligmaker en Redder is.
- Word gedoop – in water en met Heilige Gees.
- Breek met sonde en bou ’n verhouding met die Here.
- Bestudeer die Skrif (ons gebruik die Afrikaans 1933/55 vertaling as hoeksteen), en pas dit toe in jou lewe.
- Lewe as ’n getuie vir Jesus Christus.
Die volgende is die belydenis van die Volle Evangelie Kerk van God in Suider-Afrika:
Ons glo dat die Bybel die geïnspireerde woord van God is, en die finale gesag vir leer, geloof en lewenswandel vorm.
(2 Tim. 3:16-17, 2 Pet. 1:20-21, Ps. 119:105, Matt. 24:35)
Ons glo in een Ware God wat ewig bestaan in drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees.
(Deut. 6:4, Matt. 28:19, 2 Kor. 13:13, Joh. 14:16-17)
Ons glo dat Jesus Christus die eniggebore Seun van God is, deur die Heilige Gees ontvang, gebore, gekruisig, begrawe, en opgewek is uit die dode, opgevaar het na die Hemel en nou aan die regterhand van die Vader vir ons intree.
(Joh. 3:16, Matt. 1:18-23, Luk. 1:34-35, 1 Kor. 15:3-4, Hand. 1:9-11, Hebr. 7:25, Rom 8:34.)
Ons glo dat Satan ’n werklike persoonlike geestelike wese is wat teen God gerebelleer het en die vyand van God, die mensdom en die gelowige geword het.
(Luk. 10:18, Op. 12:7-9, 1 Pet. 5:8, Joh. 8:44.)
Ons glo dat alle mense deur die sondeval van Adam van God vervreem geraak het en van nature sondaars is.
(Gen. 3:1-24, Rom. 3:23, Rom. 5:12, Ef. 2:1-3.)
Ons glo dat ware bekering noodsaaklik is vir redding en ’n opregte omkeer van sonde na God vereis.
(Hand. 2:38, Hand. 3:19, Hand. 17:30, 2 Pet. 3:9.)
Ons glo dat die nuwe geboorte deur die werking van die Heilige Gees plaasvind en dat elke wedergebore gelowige in die liggaam van Christus ingedoop word.
(Joh. 3:3-8, Tit. 3:5, 2 Kor. 5:17, 1 Kor. 12:13.)
Ons glo dat deur Jesus Christus versoening tussen God en die mens bewerk is.
(Rom. 5:10-11, 2 Kor. 5:18-19, Kol. 1:20-22.)
Ons glo dat verlossing alleen moontlik is deur die versoenende bloed van Jesus Christus.
(Ef. 1:7, Kol. 1:13-14, 1 Pet. 1:18-19, Op. 5:9.)
Ons glo dat ’n mens slegs deur geloof in die Here Jesus Christus voor God geregverdig word.
(Rom. 3:28, Rom. 5:1, Gal. 2:16, Ef. 2:8-9.)
Ons glo in die waterdoop van gelowiges deur enkele onderdompeling as ’n getuienis van geloof en gehoorsaamheid aan Christus.
(Matt. 28:19, Hand. 2:41, Hand. 8:36-39, Rom. 6:3-4.)
Ons glo dat gelowiges, waar moontlik, verkeerde dade behoort reg te stel en herstel behoort te bring waar skade veroorsaak is.
(Luk. 19:8-9, Num. 5:6-7, Matt. 5:23-24.)
Ons glo dat gelowiges hulle sondes voor God moet bely en Sy vergifnis moet ontvang.
(1 Joh. 1:9, Jak. 5:16, Spr. 28:13.)
Ons glo dat God Sy kinders roep tot ’n lewe van heiligheid, afgesonder vir Sy diens.
(1 Thes. 4:3-7, Heb. 12:14, 1 Pet. 1:15-16, 2 Kor. 7:1.)
Ons glo dat die Heilige Gees in elke wedergebore gelowige woon.
(Rom. 8:9-11, 1 Kor. 3:16, Joh. 14:16-17.)
Ons glo dat die Here Jesus Christus gelowiges met die Heilige Gees doop om hulle toe te rus met krag vir getuienis en diens.
(Matt. 3:11; Luk. 24:49; Hand. 1:4-8; Hand. 2:1-4.)
Ons glo dat die aanvanklike Skriftuurlike bewys van die doop in die Heilige Gees die spreek in ander tale is soos die Gees uiting gee.
(Hand. 2:4, Hand. 10:44-46, Hand. 19:6.)
Ons glo dat Heilige Gees Sy karakter in die lewe van die gelowige voortbring.
(Gal. 5:22-23, Joh. 15:4-5, Ef. 5:9.)
Ons glo dat Heilige Gees geestelike gawes aan gelowiges gee vir diens, opbouing van die gemeente en die uitbreiding van God se Koninkryk.
(1 Kor. 12:4-11, 1 Kor. 12:27-31, Rom. 12:6-8, Ef. 4:11-13.)
Ons glo dat God tot vandag toe steeds mense genees volgens Sy wil en krag.
(Jes. 53:4-5, Matt. 8:16-17, Jak. 5:14-16, 1 Pet. 2:24.)
Ons glo dat die nagmaal deur die Here ingestel is as ’n herdenking van Sy dood totdat Hy weer kom.
(Matt. 26:26-29, Luk. 22:19-20, 1 Kor. 11:23-29.)
Ons glo dat die Kerk bestaan uit alle wedergebore gelowiges wat deur God uitgeroep is en aan Jesus Christus behoort.
(Matt. 16:18, Hand. 2:41-47, Ef. 2:19-22, 1 Pet. 2:9.)
Ons glo in die persoonlike en sigbare wederkoms van ons Here Jesus Christus, om Sy Kerk na Hom toe te neem.
(Joh. 14:1-3, 1 Thes. 4:16-17, 1 Kor. 15:51-52, Tit. 2:13.)
Ons glo dat daar ’n tyd van groot verdrukking aan die einde van hierdie aardse bedeling sal wees.
(Matt. 24:21-22, Dan. 12:1, Op. 7:14.)
Ons glo dat Jesus Christus ná die groot verdrukking op aarde sal regeer in Sy duisendjarige vrederyk.
(Op. 20:1-6, Jes. 11:1-10, Sag. 14:9.)
Ons glo in die nuwe hemel en nuwe aarde waar ons vir ewig in geregtigheid sal woon.
(Jes. 65:17, 2 Pet. 3:13, Op. 21:1-4.)
Ons glo dat diegene wat Christus verwerp, onder die ewige oordeel van God sal wees.
(Matt. 25:46, Mar. 9:43-48, 2 Thes. 1:8-9, Op. 20:11-15.)








